2 Hoe meer Ek egter na hulle geroep het, hoe meer het hulle agter afgode aangeloop. Hulle het vir die Baäls offers gebring. Hulle het vir die beelde van gode wierook gebrand.
3 “Ek self het babatjie Efraim geleer om te loop. Ek het Efraim soos ’n babatjie in my arms rondgedra. Ek het hulle vertroetel. Nou wil hulle dit nie meer onthou nie.
4 Ek het vir hulle omgegee. Ek het met liefde saam met hulle geloop. Ek was vir hulle soos iemand wat by ’n dier kom wat swaarkry en die swaar gewig van sy nek afhaal. Ek het vir hulle kos gegee.
5 Maar hulle weier steeds om na My toe terug te kom. Hulle sal nie na Egipte toe hoef terug te gaan nie. Assirië sal hulle baas wees.
6 Die vyand sal hulle stede aanval. Hulle sal die hekke van hulle stede afbreek. Hulle sal hulle eie planne moet maak om te bly leef.
7 My volk word nie moeg om van My af weg te loop nie. Ek roep hulle om terug te kom, maar hulle weier om ’n voet te versit.”
8 “Ek kan jou nie sommerso laat weggaan nie, Efraim. Ek kry dit nie oor my hart om jou sommer vir jou vyand te gee nie, Israel. Ek kan nie met jou maak soos Ek met Adma gemaak het nie. Ek kan nie met jou laat gebeur wat Ek met Sebojim laat gebeur het nie. Ek baklei met Myself om te besluit wat Ek met jou moet maak. Ek gee te veel om vir jou.