4 Ek het vir hulle omgegee. Ek het met liefde saam met hulle geloop. Ek was vir hulle soos iemand wat by ’n dier kom wat swaarkry en die swaar gewig van sy nek afhaal. Ek het vir hulle kos gegee.
5 Maar hulle weier steeds om na My toe terug te kom. Hulle sal nie na Egipte toe hoef terug te gaan nie. Assirië sal hulle baas wees.
6 Die vyand sal hulle stede aanval. Hulle sal die hekke van hulle stede afbreek. Hulle sal hulle eie planne moet maak om te bly leef.
7 My volk word nie moeg om van My af weg te loop nie. Ek roep hulle om terug te kom, maar hulle weier om ’n voet te versit.”
8 “Ek kan jou nie sommerso laat weggaan nie, Efraim. Ek kry dit nie oor my hart om jou sommer vir jou vyand te gee nie, Israel. Ek kan nie met jou maak soos Ek met Adma gemaak het nie. Ek kan nie met jou laat gebeur wat Ek met Sebojim laat gebeur het nie. Ek baklei met Myself om te besluit wat Ek met jou moet maak. Ek gee te veel om vir jou.
9 Ek sal nie in woede teen jou losbars nie. Ek sal nooit so ver gaan om Efraim heeltemal uit te roei nie. Ek is immers God. Ek is nie ’n mens nie. Ek is die hoë God wat by julle woon. Ek sal nie met my woede op julle lostrek nie.
10 My volk sal weer agter die Here aangaan. Die Here sal brul soos ’n leeu. En as sy welpies dit hoor, sal hulle begin bewe. Hulle sal baie versigtig uit die weste na Hom toe kom.