2 Maar hulle doen selfs nog meer as dit. Hulle maak vir hulleself beelde van die afgode om daarvoor te buig. Hulle dink die afgode uit. Hulle maak uit silwer vir hulle beelde volgens hulle idees oor hoe die gode lyk. Maar dit bly tog maar net goed wat iemand uit silwer vir hulle gemaak het. Nogtans sê hulle: ‘Mens, offer vir die god. Buig voor die kalf en soen hom.’
3 Omdat hulle goed aanbid wat mense gemaak het, sal hulle nie vir altyd bly staan nie. Hulle sal verdwyn soos die vroeë oggendmis voor die son verdwyn. Hulle sal wees soos dou wat vroeg in die oggend al verdamp. Hulle sal wees soos kaf wat die wind van die dorsvloer af wegwaai, soos rook wat by ’n skoorsteen uitgaan en in die wind wegwaai.
4 “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte gered. Julle behoort nie aan enige ander god nie. Julle behoort net aan My. Daar is niemand anders wat julle kan verlos nie. Dit is net Ek wat julle uit julle probleme kan red.”
5 “In die woestyn het Ek vir hulle gesorg. Dit was droog daar en daar was nie water nie.
6 Toe hulle daarna in ’n vrugbare land kom, was hulle soos skape wat hulle knuppeldik gevreet het. Hulle het gedink dat hulle My nie meer nodig het nie. Hulle het die rug vir My gedraai asof Ek oorbodig was.
7 Ek het daarom vir hulle soos ’n leeu geword wat hulle wil verskeur. Ek is vir hulle net soos ’n luiperd wat langs die pad lê en wag dat sy prooi moet kom.
8 Ek sal hulle aanval soos ’n woedende beer as iemand haar kleintjie by haar probeer wegvat. Ek sal hulle uitmekaarskeur. Ek sal daar langs die pad gaan lê en hulle opvreet soos ’n leeuwyfie. Wanneer Ek klaar is, sal die wilde diere van die veld hulle verder uitmekaarskeur en opvreet.