9 Ek gaan haar kaal laat staan voor die mans met wie sy deurmekaar is, dat sy kan skaam kry. Niemand sal lus wees om weer iets met haar te doen te hê nie.
10 Ek gaan haar rinkinkery stopsit. Ek maak ’n einde aan haar partytjies wat sy vir die afgode hou. Die feeste op die nuwemaan en op die sabbat sal op ’n einde kom.
11 “Sy het gespog dat die mans wat by haar gekuier het, haar betaal het deur vir haar druiwe- en vyebome te plant. Ek gaan dit wortel en tak uitroei. Ek gaan dit bosse maak waar die wilde diere sal kom vreet.
12 Ek gaan haar straf oor die tyd toe sy vir die Baäls offers gebring het. Ek gaan haar laat betaal vir die tyd toe sy haar mooi gemaak het en juwele aangesit het om agter die mans aan te loop en My net so laat staan het,” sê die Here.
13 “Kyk net wat Ek gaan doen. Ek gaan haar ompraat om saam met My na die woestyn toe te gaan. Ek gaan daar vir haar mooi dinge sê wat sy graag wil hoor.
14 As ons daar is, gaan Ek haar wingerde vir haar teruggee. Ek gaan die Akorlaagte verander. Daar waar sy hartseer was oor wat gebeur het, daar gaan Ek vir haar hoop gee vir die toekoms. Sy gaan weer vir My lief word soos vroeër toe sy nog jonk was. Dit gaan wees soos in die dae toe Ek haar uit Egipte gered het.
15 “Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy vir My sê: ‘Jy is my man.’ Jy sal My nie weer ‘My leier Baäl’ noem nie.