4 “Moenie die volk beskuldig nie. Moenie aanklagte maak teen die volk nie. Jy moet eerder ’n saak maak teen die man wat by God se huis die offers bring.
5 Hy maak foute in die dag. Hy en die man wat God se boodskap bring, maak verkeerde besluite in die nag. Ek sal sy familie saam met hom laat doodgaan.
6 “My volk boer agteruit omdat hulle My nie meer ken nie. Die man by God se huis is die oorsaak daarvan. Jy moet die pad vir die volk wys, maar jy het nie belanggestel om hulle van My te leer nie. Ek stel daarom ook nie verder belang dat jy vir My moet werk nie. Jy het vergeet om jou volk te leer wat die Here wil hê. Daarom gaan Ek ook vergeet van jou nageslag wat ná jou die werk moet voortsit.
7 Jou nageslag het al meer geword. Daar het al meer mense gekom wat vir God moet werk. Maar soos hulle al meer geword het, het die mense wat nie na My wil luister nie, ook al meer geword. Mense het gedink dat julle belangrik is. Ek gaan dit verander. Hulle gaan in die toekoms niks van julle dink nie.
8 “Die mans wat die offers bring, kry voordeel uit die offers wat my volk bring om vir hulle sonde te betaal. Hulle wens selfs dat die volk nog meer verkeerde dinge moet doen. Hoe meer sonde die volk doen, hoe meer moet hulle offers vir die Here bring. Omdat die priesters ’n deel van die offer kry om te eet, beteken meer offers vir hulle meer kos.
9 Die mans wat die offers bring, is maar net soos die volk. Hulle doen maar net soveel sonde. Ek sal hulle straf vir wat hulle doen. Hulle oortredings gaan op hulle eie kop terugkom.
10 Al eet hulle hulle knuppeldik aan die vleis wat geoffer word, sal hulle nooit genoeg kry nie. Al slaap hulle by die vroue wat saam met hulle werk, sal hulle nooit kinders hê nie. Hulle het mos van die Here vergeet.