1 “Die priesters moet nou mooi luister. Israeliete, gee ’n bietjie aandag. Die koning en sy gesin moet hulle ore spits. Die Here daag julle almal voor die hof. Hy kla julle daarvan aan dat julle soos ’n strik geword het vir die volk. Die dinge wat julle by Mispa laat gebeur, is vir die volk ’n lokval. Wat julle op Tabor doen, is soos ’n vangnet wat gespan is.
2 Dit is soos ’n wip by Sittim waarin diere gevang word. Ek gaan julle vasvat.
3 Ek weet presies wat in Efraim aan die gang is. Julle kan niks in Israel vir My wegsteek nie. Efraim, jy het My mos verlaat om agter afgode aan te draf. Israel, jy het onaanvaarbaar vir My geword.
4 Wat hulle doen, is so afgryslik dat hulle nooit weer na hulle God toe kan teruggaan nie. Hulle is so besig om afgode met offers te dien dat hulle nie langer aan die Here kan behoort nie.