3 Ek weet presies wat in Efraim aan die gang is. Julle kan niks in Israel vir My wegsteek nie. Efraim, jy het My mos verlaat om agter afgode aan te draf. Israel, jy het onaanvaarbaar vir My geword.
4 Wat hulle doen, is so afgryslik dat hulle nooit weer na hulle God toe kan teruggaan nie. Hulle is so besig om afgode met offers te dien dat hulle nie langer aan die Here kan behoort nie.
5 Israel is so voor op die wa dat Ek hom moet aankla. Israel en Efraim val oor hulle eie foute. Selfs Juda sal saam met hulle val.
6 Wanneer hulle met vee en beeste gaan om vir die Here te offer, sal dit te laat wees. Hulle sal Hom nie meer in die hande kry nie. Hy het alreeds weggegaan.
7 Hulle het die Here se Naam sleggemaak. Hulle is soos ’n vrou wat nie getrou bly aan haar man nie. Sy maak skande. Sy het kinders by ’n ander man. Omdat hulle vir die afgode offers bring, gaan Ek binne ’n maand hulle landerye vernietig.”
8 “Blaas op die trompet in Gibea! Roep almal op om te kom oorlog maak. Blaas op die trompet in Rama! Gee die teken vir die oorlog. Gee die oorlogskreet in Bet-Awen! Benjamin, kyk wat Efraim agter jou rug beplan!
9 Efraim gaan sonder twyfel verwoes word wanneer hy die dag veroordeel word. Ek sê dit nou al vir al die families in Israel.