6 Die kalf wat hulle gemaak het, is ’n ding wat Israel self uitgedink het. ’n Goudsmid het dit vir julle uit goud gemaak. Dit kan mos nie ’n god wees nie! Samaria se kalf sal nog in stukkies gebreek word.
7 Dit gaan julle niks in die sak bring nie. Dit is soos wanneer jy wind saai en al wat jy kry, is ’n stormwind. As koringare nie ryp word nie, kan dit nie gemaal word om meel te maak nie. Selfs al word die koring miskien ryp, kan niks verseker dat dinge nie verkeerd sal loop nie. Ander mense kan jou koring kom steel, dit afoes en dit eet.”
8 “Israel het tussen die nasies weggeraak. Hy het tussen die volke geword soos ’n ding wat niemand meer wil hê nie.
9 Efraim is soos ’n wildedonkie wat alleen in die veld ronddwaal. Hy soek na maats. Hy gaan na Assirië toe om iemand te kry wat saam met hom kan bly.
10 Selfs al kry Israel iemand anders onder die nasies wat hom wil help, gaan dit op niks uitloop. Ek sal hulle in ’n hoek vasdruk. Hulle knieë sal onder hulle knak soos pakdonkies wat ’n vrag dra wat te swaar is. Hulle sal soos ’n dier wees waarop die koning en die leiers ’n vrag sit wat te swaar is om te dra.
11 “Efraim het al meer en meer plekke gebou waarop hy offers vir sy sonde kan bring. Efraim het egter die altare wat hy gebou het, gebruik om offers vir die afgode te bring. Dit het net gemaak dat hy al meer en meer teen die Here oortree het.
12 Al skryf Ek hoeveel keer vir Efraim neer wat Ek wil hê hy moet doen, sal hy dit nooit doen nie. Hy sal nie verstaan wat Ek wil hê nie.