3 “Julle kan nie langer in die Here se land bly nie. Efraim sal moet teruggaan Egipte toe. In Assirië sal hulle kos moet eet wat nie vir die Here reg is nie.
4 As hulle daar is, sal hulle nie meer vir die Here offers van wyn kan bring nie. Die Here sal nie tevrede wees met die offers wat hulle daar vir Hom bring nie. Die kos wat hulle daar eet, sal wees soos kos wat vir ’n begrafnis gemaak is. Elkeen wat van daardie kos eet, sal nie langer vir die Here aanvaarbaar wees nie. Die kos wat hulle daar eet, sal hulle net help om aan die lewe te bly. Dit sal nie kos wees waarmee jy na die Here toe kan gaan om dit vir Hom te offer nie.
5 Julle sal nie daar die Here se feesdae kan vier nie. Dit sal nie moontlik wees om die feeste te hou wat die Here van julle vra nie.
6 Dié wat dit regkry om van die Assiriërs weg te kom, sal in elk geval in Egipte gevang word. Die Egiptenaars sal hulle doodmaak en in Memfis begrawe. Daar sal bossies en dorings groei op die plekke waar hulle gebly het. Oor elke plek wat vir hulle kosbaar was, sal daar gras groei.”
7 “Die tyd het gekom om die boete te betaal. Die tyd is hier om die skuld wat hulle gemaak het, bymekaar te tel. Israel gaan baie goed besef dat dit nou sulke tyd is. Julle sê die man wat God se boodskap bring, is mal. Julle sê die man in wie God se Gees is, is stapelgek. Julle sê so omdat julle sonde so groot is. Julle voel skuldig. Dit is hoekom julle met hom wil baklei as hy met julle praat.
8 Die Here se boodskapper moet kyk wat Efraim doen. Waar die boodskapper ook al gaan, kyk hulle heeltyd of hy nie miskien iets verkeerds doen nie. Selfs waar daar vir die Here geoffer word, hou hulle aan om hom soos ’n vyand te behandel.
9 Hulle gaan agteruit en word so sleg soos destyds by Gibea. Die Here onthou alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy sal hulle vir elke sonde straf.”