2 Die Here wou sekere dinge vir die koning en die volk sê. Hy het Jeremia daarvoor gebruik. Hy het vir hom boodskappe gegee in die dertiende jaar wat Josia koning van Juda was (ongeveer 627 v.C.). Josia was die seun van koning Amon.
3 Die Here het aangehou om vir Jeremia boodskappe te gee ook in die tyd van koning Jojakim, wat Josia se seun was, tot in die elfde jaar dat Sedekia koning was (tot 586 v.C.). In Augustus van hierdie jaar is die mense wat in Jerusalem gebly het, gevang. Die mense van Babel het die inwoners van Jerusalem uit Juda weggevat na hulle land toe. Hulle sou in Babel in ballingskap moes bly.
4 Die Here het vir my gesê:
5 “Ek ken jou van altyd af. Van voor jou geboorte af het Ek jou gekies en aangestel om namens My met die nasies van die wêreld te praat.”
6 Ek het geantwoord en gesê: “Nee, Here, ek kan nie goed praat nie en ek is gans en al te jonk vir dié belangrike taak.”
7 Maar die Here het my geantwoord: “Moenie sê jy is te jonk nie. Jy moet na die mense toe gaan na wie Ek jou stuur en vir hulle my boodskap gee.
8 Jy moet ook nie vir hulle bang wees nie. Ek belowe jou, Ek sal by jou wees en jou beskerm.”