1 Die Here het vir Jeremia gesê wat hy vir die mense van Juda moes sê. Dit was net toe Jojakim koning van Juda geword het. Jojakim was die seun van koning Josia.
2 Die Here het gesê: “Baie mense kom uit al die stede van Juda na die tempel om die Here te aanbid. Gaan staan in die voorste gedeelte van die tempel van die Here en praat met hierdie mense. Sê vir hulle alles wat Ek jou opdrag gegee het om te sê. Moenie een woord terughou nie.
3 Miskien sal hulle luister en ophou om die verkeerde goed te doen waarmee hulle besig is. Dan kan Ek my planne om hulle kwaad aan te doen vir die slegte goed wat hulle doen, verander.
4 Sê vir hulle, die Here sê: Ek het vir julle riglyne gegee hoe om te lewe.
5 Ek het ook keer op keer my profete na julle gestuur om julle te waarsku. Nie dat julle julle juis aan hulle gesteur het nie. As julle my riglyne en my boodskappers aanhou ignoreer,
6 sal Ek hierdie tempel verwoes soos Ek die aanbiddingsplek Silo verwoes het. Ek sal Jerusalem so sleg laat lyk dat die nasies dit as ’n vloekwoord sal gebruik.”
7 Die priesters, die sogenaamde profete van die Here en al die mense het geluister na wat Jeremia te sê gehad het daar voor die Here se tempel.
8 Toe hy klaar gepraat het en alles gesê het wat die Here vir hom gesê het om vir al die mense te sê, het die omstanders hom aangeval. Hulle het geskree: “Jy moet doodgemaak word oor wat jy sê!”
9 Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die Here te praat? Hoe kan jy sê dat die tempel net soos wat met Silo gebeur het, vernietig sal word? Wie is jy om te sê dat Jerusalem verlate en sonder enige mense sal wees?” Die mense wat daar voor die tempel om Jeremia saamgedrom het, het hom gedreig met hulle houding.
10 Die leiers van Juda was in die paleis toe hulle die nuus hoor van wat voor die tempel gebeur het. Hulle het haastig van die paleis af na die Nuwe Ingang van die tempel gegaan. Daar het hulle ’n vergadering gehou.
11 Die priesters en die profete het toe vir die leiers van Juda en al die mense wat daar rondgestaan het, gesê wat hulle dink. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor wat hy gesê het. Hy het gesê slegte goed gaan met Jerusalem gebeur.”
12 Toe het Jeremia homself begin verdedig teenoor die leiers en die mense. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur met die boodskap wat met die tempel en met Jerusalem gaan gebeur. Elke liewe woord wat ek gepraat het, het die Here vir my gegee om te sê.
13 Maar as julle nou ophou om verkeerde goed te doen en begin doen wat die Here julle God van julle verwag, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gesê het Hy gaan doen nie.
14 Met my moet julle maar maak soos julle goeddink. Ek is in julle hande uitgelewer.
15 Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige mens dood. Julle, hierdie stad en al die mense van die stad sal die gevolge moet dra as julle dit doen. Ek praat die waarheid as ek sê dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge vir julle te kom sê.”
16 Toe het die leiers van Juda en die gewone mense vir die priesters en die sogenaamde profete van die Here gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie. Hy het namens die Here ons God met ons kom praat.”
17 ’n Paar van die ouer leiers van die land het toe opgestaan en met die mense gepraat wat daar bymekaar was.
18 Hulle het gesê: “Dink ’n bietjie terug aan die tyd toe Miga van Moreset vir al die mense van Juda boodskappe van die Here gebring het. Dit was in die tyd toe Hiskia koning van Juda was. Hy het gesê: ‘Die Here is sterker as alles en almal en Hy sê: Sion sal soos ’n veld omgeploeg word. Jerusalem sal ’n hoop bourommel word. ’n Groot bos sal op die heuwel groei waar die tempel eers gestaan het.’
19 Het koning Hiskia en die mense van Juda vir Miga doodgemaak omdat hy hierdie dinge gesê het? Nee, die koning het groot respek vir die Here gehad. Hy het in sy goeie boekies probeer kom. Die Here het toe besluit om Juda nie meer met ’n ramp te tref soos Hy eers wou doen nie. As ons Jeremia doodmaak, wie weet wat kan ons tref?”
20 In dié tyd was daar ook ’n ander man wat namens die Here boodskappe oorgedra het. Sy naam was Urija en hy was ’n seun van Semaja. Hy het van die dorp Kirjat-Jearim af gekom. Sy boodskappe was ook teen Jerusalem en hierdie land. Hy het baie dieselfde dinge as Jeremia gesê.
21 Toe koning Jojakim, van die offisiere van sy leër en van die leiers van Juda hoor wat Urija te sê gehad het, het die koning iemand gestuur om hom dood te maak. Maar toe Urija van die sameswering teen hom hoor, was hy baie bang. Hy het toe Egipte toe gevlug.
22 Maar koning Jojakim het Elnatan, wat ’n seun van Akbor was, Egipte toe gestuur. ’n Paar ander mense het saam met Elnatan gegaan om Urija te gaan aankeer.
23 Hulle het hom in Egipte gevang en na koning Jojakim toe teruggebring. Die koning het Urija met ’n swaard laat doodmaak. Daarna het hy hom tussen die gewone mense begrawe.
24 Agikam, die seun van Safan, het Jeremia se kant gevat. Hy het gekeer dat hulle Jeremia aan die mense oorgee, want hulle wou hom doodmaak.