7 Maar die Here het my geantwoord: “Moenie sê jy is te jonk nie. Jy moet na die mense toe gaan na wie Ek jou stuur en vir hulle my boodskap gee.
8 Jy moet ook nie vir hulle bang wees nie. Ek belowe jou, Ek sal by jou wees en jou beskerm.”
9 Toe het dit vir my gevoel of die Here met sy hand aan my mond raak. Hy het vir my gesê: “Ek sit die woorde wat jy nodig het, in jou mond.
10 Ek gee jou van vandag af mag en invloed oor nasies en regerings. Party van hierdie nasies moet jy soos bossies uittrek of soos ’n muur afbreek sodat daar heeltemal niks van hulle oorbly nie. Ander moet jy van nuuts af begin bou en sterk maak.”
11 Die Here het toe vir my gesê: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien ’n amandeltakkie.”
12 En die Here het vir my gesê: “Jy is reg, dit is ’n amandeltakkie. Die amandelboom is gevoelig en weet altyd eerste dat die lente naby is, dan maak hy bloeisels. Net so sal Ek ook fyn aanvoel en sorg dat wat Ek gesê het moet gebeur, op die regte tyd sal gebeur.”
13 Die Here het toe weer met my gepraat en gevra wat ek sien. Ek het Hom geantwoord: “Ek sien ’n pot in die noorde wat staan en kook en dit lyk of die pot na ons kant toe wil omval.”