13 As Hy praat, klink dit soos die gedreun van donderweer in die hemel. Dit is ook Hy wat die mis laat opstyg uit die aarde. Dit voel vir ’n mens of dit van iewers ver op die aarde af moet kom. Die Here stuur ook die weerlig saam met die reën. Hy stuur ook die wind van ’n plek af wat iets soos ’n stoorkamer moet wees.
14 As mense nou met Hom vergelyk word, lyk hulle maar dom. Hulle weet net mooi niks! Die goudsmede wat die beelde maak, kom in die verleentheid, want die afgodsbeelde is vals. Hulle het nie krag nie.
15 Die afgode is net mooi niks werd nie. Hulle is niks anders as leuens nie. Die dag wanneer die Here besluit om met hulle af te reken, sal niks van hulle oorbly nie.
16 Maar die God van Israel is nie soos hierdie afgode nie! Hy het alles gemaak, ook vir Israel. Israel is die volk wat Hy spesiaal uitgesoek het om aan Hom te behoort. Sy Naam is Here en Hy is sterker as alles en almal!
17 Die mense van Jerusalem is deur die vyand omsingel. “Maak julle besittings bymekaar,”
18 sê die Here. “Neem kennis, Ek gaan julle nou uit julle land laat uitgooi. Ek gaan dit vir julle baie moeilik maak, julle sal die druk voel.”
19 Die mense in Jerusalem het gekla: “Dit gaan ellendig met ons, ons is erg seergemaak! Ons kan maar net huil oor ons siek toestand. Ons het gedink: Ja, dit is ’n groot lyding hierdie, maar ons sal dit kan vat en deursien.