3 Sê vir hulle: Die Here, die God van Israel sê: Dit sal sleg gaan met mense wat nie gehoorsaam is aan die voorskrifte van die ooreenkoms tussen My en hulle nie.
4 Ek het vir julle voorouers gesê toe Ek hulle as slawe in Egipte vrygemaak het: Julle moet aan My gehoorsaam wees. Doen alles wat Ek sê julle moet doen. As julle dit regkry, sal julle my eie mense wees. Van my kant af sal Ek julle God wees.
5 So sou Ek dan my belofte hou wat Ek aan julle voorouers met ’n plegtige belofte gemaak het. Ek het gesê Ek sal hulle ’n land gee waar die melk en heuning in strome loop. Dit is die land waar julle nou bly.” Ek het geantwoord: “Dit is so, Here!”
6 Toe het die Here gesê: “Gaan sê vir die mense in Juda se stede en in Jerusalem se strate: Onthou die voorskrifte van die ooreenkoms wat Ek met julle gemaak het en kom hulle na!
7 Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle ernstig gewaarsku om aan My gehoorsaam te wees. Ek het dit gereeld gedoen en doen dit nog steeds.
8 Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eens na my waarskuwing luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en dinge gedoen wat verkeerd was. Die ooreenkoms tussen My en hulle was dat hulle gestraf sou word as hulle ongehoorsaam is. Daarom, omdat hulle nie my opdragte gehoorsaam het nie, sal Ek hierdie oordele oor hulle bring.”
9 Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Die mense van Juda en Jerusalem het teen My in opstand gekom.