Jeremia 11:5-11 DB

5 So sou Ek dan my belofte hou wat Ek aan julle voorouers met ’n plegtige belofte gemaak het. Ek het gesê Ek sal hulle ’n land gee waar die melk en heuning in strome loop. Dit is die land waar julle nou bly.” Ek het geantwoord: “Dit is so, Here!”

6 Toe het die Here gesê: “Gaan sê vir die mense in Juda se stede en in Jerusalem se strate: Onthou die voorskrifte van die ooreenkoms wat Ek met julle gemaak het en kom hulle na!

7 Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle ernstig gewaarsku om aan My gehoorsaam te wees. Ek het dit gereeld gedoen en doen dit nog steeds.

8 Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eens na my waarskuwing luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en dinge gedoen wat verkeerd was. Die ooreenkoms tussen My en hulle was dat hulle gestraf sou word as hulle ongehoorsaam is. Daarom, omdat hulle nie my opdragte gehoorsaam het nie, sal Ek hierdie oordele oor hulle bring.”

9 Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Die mense van Juda en Jerusalem het teen My in opstand gekom.

10 Hulle doen nou dieselfde verkeerde dinge as wat hulle voorouers gedoen het. Hulle wil nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Verder het hulle ook afgode begin vereer. Israel en Juda het nie die ooreenkoms nagekom wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie.

11 Omdat hulle so maak,” sê die Here, “sal ’n ramp hulle tref. Daar is nie ’n manier dat hulle dit sal vryspring nie. Al bid hulle dat Ek hulle moet help, Ek sal nie na hulle luister nie.