Jeremia 11:7-13 DB

7 Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle ernstig gewaarsku om aan My gehoorsaam te wees. Ek het dit gereeld gedoen en doen dit nog steeds.

8 Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eens na my waarskuwing luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en dinge gedoen wat verkeerd was. Die ooreenkoms tussen My en hulle was dat hulle gestraf sou word as hulle ongehoorsaam is. Daarom, omdat hulle nie my opdragte gehoorsaam het nie, sal Ek hierdie oordele oor hulle bring.”

9 Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Die mense van Juda en Jerusalem het teen My in opstand gekom.

10 Hulle doen nou dieselfde verkeerde dinge as wat hulle voorouers gedoen het. Hulle wil nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Verder het hulle ook afgode begin vereer. Israel en Juda het nie die ooreenkoms nagekom wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie.

11 Omdat hulle so maak,” sê die Here, “sal ’n ramp hulle tref. Daar is nie ’n manier dat hulle dit sal vryspring nie. Al bid hulle dat Ek hulle moet help, Ek sal nie na hulle luister nie.

12 Die mense van die stede van Juda en Jerusalem sal dan hulle afgode smeek om hulle te help. Hulle sal selfs wierook vir die afgode brand om hulle guns te wen. Die afgode sal hulle nie uit die moeilikheid help as die ramp hulle tref nie.

13 Juda, julle het net soveel afgode as wat julle stede het. Julle het ook op baie plekke klippe opgestapel waarop julle wierook vir die skandelike afgod Baäl kan brand. Daar was amper soveel plekke as wat daar strate in Jerusalem is.”