1 Here, U behandel my altyd regverdig as ek my saak aan U verduidelik. Maar nou het ek ’n paar vrae wat ek wil vra: Hoekom gaan dit so goed met slegte mense? Hoekom leef oneerlike mense asof niks hulle kan pla nie?
2 U het hulle lewe gegee. Hulle is soos bome wat geplant is. Die bome groei baie goed, want hulle wortels is diep in die grond geanker. Op die oog af lyk dit of dit baie goed met hierdie slegte mense gaan. Hulle sê graag mooi dinge oor U, maar hulle bedoel nie ’n woord daarvan nie.
3 Maar U ken my, Here. U sien my net soos ek is en U weet presies wat ek dink. Sleep hierdie mense weg soos ’n mens met skape sou maak wat geslag gaan word. Hou ’n oog oor hulle totdat dit tyd is om hulle te slag.
4 Hoe lank moet hierdie land nog in so ’n droewige toestand bly? Selfs die gras op elke stukkie veld het verdroog. Die diere en die voëls het ook verdwyn. En wat is die oorsaak van alles? Die verkeerde dinge wat die mense van die land doen. En tog sê hulle: “Die Here sal niks daaromtrent doen nie!”
5 Toe het die Here my geantwoord: “Jeremia, jy sal nog moeiliker dinge deurmaak. As jy moeg word wanneer jy resies hardloop teen mense, hoe sal jy ooit teen perde kan kompeteer? As jy struikel en val in ’n land waar daar eintlik niks in jou pad is nie, wat sal jy doen as jy in die digte bosse by die Jordaan beland?