11 Hulle het die land soos ’n verlate woestyngebied gemaak. Dit is of die grond van smart uitroep oor die toestand waarin dit is. Die hele land is verlate, maar niemand gee juis daarvoor om nie.
12 Die vernietigende leërs van die vyand het oor die kaal heuwels van die woestyn gekom om die land te kom plunder. Die Here stuur ’n oorlog wat die hele land en sy mense, van hoek tot kant, sal tref. Niemand sal wegkom nie!
13 Die volk het koring gesaai, maar daar sal net dorings wees om te oes. Van al hulle harde werk sal daar niks kom nie. Wanneer hulle die oes bymekaar begin maak, sal hulle verleë staan. Die oes sal ’n mislukking wees omdat Ek, die Here, vir hulle kwaad is.”
14 Die Here het gesê: “Die buurvolke is sleg. Hulle is gulsig en probeer die land wat Ek vir my volk Israel gegee het, in die hande kry. Ek sal sorg dat ander volke hierdie buurvolke uit hulle lande wegvat. Maar Juda sal Ek uit hulle mag red.
15 As Ek al hierdie volke uit hulle lande laat wegvat het, sal Ek hulle weer jammer kry. Ek sal elke volk na sy eie land toe laat terugkom waar al die goed is wat hulle besit.
16 Hierdie volke kan saam met my volk kom bly in die land wat Ek vir hulle gegee het. Maar daar is voorwaardes wat hulle moet nakom. Daar word van hulle verwag om so vinnig moontlik al die gewoontes en gebruike van my volk aan te leer. Verder moet hulle ook leer dat as hulle ’n plegtige belofte maak, hulle moet sê: ‘so waar as die Here leef.’ Hulle moet dit doen om te bevestig dat hulle die waarheid praat. Vroeër het hulle my volk geleer om Baäl se naam te gebruik as hulle sweer.
17 As enige van hierdie volke nie wil saamwerk nie, sal Ek hulle wortel en tak laat uitroei!” Die Here het dit gesê.