4 Hoe lank moet hierdie land nog in so ’n droewige toestand bly? Selfs die gras op elke stukkie veld het verdroog. Die diere en die voëls het ook verdwyn. En wat is die oorsaak van alles? Die verkeerde dinge wat die mense van die land doen. En tog sê hulle: “Die Here sal niks daaromtrent doen nie!”
5 Toe het die Here my geantwoord: “Jeremia, jy sal nog moeiliker dinge deurmaak. As jy moeg word wanneer jy resies hardloop teen mense, hoe sal jy ooit teen perde kan kompeteer? As jy struikel en val in ’n land waar daar eintlik niks in jou pad is nie, wat sal jy doen as jy in die digte bosse by die Jordaan beland?
6 Selfs jou broers, wat jou naby familie is, het jou verraai. Hulle is daarop uit om jou kwaad aan te doen. Moenie hulle enigsins vertrou nie, selfs nie as hulle vriendelike praatjies met jou maak nie.”
7 Die Here sê: “Ek het my volk aan hulle eie genade oorgelaat. Hulle was baie spesiaal vir My. Maar al het Ek hulle liefgehad, het Ek hulle aan hulle vyande oorgegee.
8 My volk het net soos ’n leeu gemaak wat in ’n bos is. Hulle het vir My gebrul. Hulle het ’n dreigende houding gehad. Daarom het Ek nie ooghare vir hulle nie.
9 Israel was my volk wat Ek gekies het. My volk is soos ’n voël wat deur ander roofvoëls omring is. Hulle val hulle prooi van alle kante af aan. Israel se vyande is soos roofdiere wat die karkas kom skoon vreet. Hulle sal op my mense toesak soos hierdie roofdiere.
10 Baie vyandige konings het my volk se land vertrap. Hulle is soos herders van skape wat ’n wingerd erg beskadig. Hulle vertrap die landerye soos hulle deur trek. Hulle beskadig die landerye so erg dat van die vrugbaarste grond soos ’n verlate wildernis lyk as hulle daarmee klaar is.