1 Die Here het vir Jeremia die volgende in verband met die groot droogte gesê:
2 “Die mense van Juda treur. In die stad gaan daar feitlik niks aan as dit by besigheid kom nie. Die mense sit op die grond om te wys dat hulle rou. In Jerusalem hoor jy mense wat om hulp roep.
3 Die stad se belangrike mense stuur hulle werkers om te gaan water haal, maar die putte is droog. Hulle kom met leë houers van die putte af terug. Dronkgeslaan en moedeloos oor wat aan die gang is, het hulle hulle kop toegemaak.
4 Omdat dit nie gereën het nie, het die grond van die droogte gebars. Die boere het van pure moedeloosheid met hulle hande in die hare gesit.