Jeremia 14:15-21 DB

15 Daarom sê die Here oor hierdie profete: “Ek sal hierdie mense straf omdat hulle namens My praat en beweer dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal self in ’n oorlog sterf of van die honger doodgaan.

16 Die mense vir wie hierdie valse profete gelieg het, sal oral in die strate van Jerusalem dood lê. Mans, vroue en kinders sal die slagoffers wees van hongersnood of oorlog. Daar sal niemand oor wees om hulle te begrawe nie. Hulle moet self die skuld dra dat dit met hulle gebeur het, want hulle het slegte goed gedoen.

17 Jeremia, vertel vir hulle wat jy voel oor wat gebeur. Sê vir hulle: Dag en nag loop die trane uit my oë. Ek kan nie ophou huil nie. My volk wat soos ’n jongmeisie is, is swaar gewond en besig om dood te gaan.

18 As ek in die veld kom, sien ek oral net lyke lê. Hulle is afgemaai deur die vyand. Loop ek in die strate van die stad, is al wat ek sien, mense wat van die honger dood is. Die sogenaamde boodskappers van die Here en die priesters gaan oral in die land aan met hulle werk, maar hulle weet nie regtig wat hulle doen nie.”

19 Here, wil U nou heeltemal niks met Juda te doen hê nie? Haat U die mense van Jerusalem? Waarom het U ons so erg gewond dat niemand ons gesond kan maak nie? Ons het so gehoop dat alles weer rustig en voorspoedig sou gaan, maar daar het niks van gekom nie. Ons het gehoop dat daar vir ons kans sou wees om weer reg te kom, maar in plaas daarvan het verskriklike dinge met ons gebeur.

20 Here, ons erken dat ons verkeerde dinge gedoen het. So ook ons voorouers. Ons het nie die dinge gedoen wat U wou hê ons moes doen nie.

21 Ek vra dat U ook ter wille van Uself ons nie van U af sal wegstoot nie. Jerusalem is u blyplek wat baie spesiaal is. Moenie dat daar skade aan die stad gedoen word nie. U is ons God en ons is u mense. Moenie die ooreenkoms tussen U en ons verbreek nie.