2 “Die mense van Juda treur. In die stad gaan daar feitlik niks aan as dit by besigheid kom nie. Die mense sit op die grond om te wys dat hulle rou. In Jerusalem hoor jy mense wat om hulp roep.
3 Die stad se belangrike mense stuur hulle werkers om te gaan water haal, maar die putte is droog. Hulle kom met leë houers van die putte af terug. Dronkgeslaan en moedeloos oor wat aan die gang is, het hulle hulle kop toegemaak.
4 Omdat dit nie gereën het nie, het die grond van die droogte gebars. Die boere het van pure moedeloosheid met hulle hande in die hare gesit.
5 Selfs die wildsbokooi gooi haar lammetjie weg omdat daar nie groen gras is om te eet nie.
6 Die wildedonkies staan op die kaal bulte en snuif die lug soos die jakkalse maak as hulle dors is. Van die honger raak hulle oë dof, want daar is niks meer gras om te eet nie.”
7 Die mense het gereageer en gesê: “Here, al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, het ons nou ingehaal. Ons het nie reg teenoor U gedoen nie. Ons was al soveel keer dislojaal teenoor U. Maar al is dit so, Here, help ons ter wille van u eie reputasie.
8 Here, U is Israel se enigste hoop. As ’n krisis opduik, help U u mense uit die moeilikheid. Hoekom is U soos ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat op reis is deur die land en net een nag oorslaap?