Jeremia 14:9-15 DB

9 Here, hoekom tree U op soos iemand wat ’n bietjie deurmekaar is? Hoekom maak U asof U ons nie kan help nie? U is mos by ons en ons is mos u eie mense, ons behoort aan U. Moet ons tog nie nou in die steek laat nie!”

10 Die Here het sy volk geantwoord en gesê: “Julle het daarvan gehou om van My af te dwaal. Julle kon julleself nie in toom hou nie. Daarom dink Ek nie langer aan julle as my mense nie. Ek sal al die slegte dinge wat julle gedoen het, onthou. Ek sal julle straf vir al die dinge wat julle verkeerd gedoen het.”

11 Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.

12 Al bly hulle ook sonder kos ter wille van My, sal Ek My nie aan hulle steur nie. En al bring hulle ook allerhande soorte offers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.”

13 Maar toe sê ek: “Here, daar is niemand wat so magtig soos U is nie. Hulle profete wat ook sê dat U hulle gestuur het, sê vir hulle: ‘Dit gaan goed. Moenie julle steur aan praatjies oor oorlog of hongersnood nie. Die Here sal sorg dat dit bly goed gaan in die land.’”

14 Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete praat namens My, maar hulle praat nie die waarheid nie. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek gesê hulle moet vir julle ’n boodskap gee. Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Hulle maak of dit wat hulle te sê het, nuwe inligting is wat hulle gesien het of aan hulle bekendgemaak is. Dit is ’n spul leuens wat hulle vir julle aandra, maar hulle vertel dit vir julle asof dit van die Here af kom.”

15 Daarom sê die Here oor hierdie profete: “Ek sal hierdie mense straf omdat hulle namens My praat en beweer dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal self in ’n oorlog sterf of van die honger doodgaan.