Jeremia 15:3-9 DB

3 Die Here sê: “Ek sal hulle op vier maniere straf. Hulle sal met ’n wapen doodgemaak word en honde sal hulle wegsleep. Dan sal die aasvoëls en die wilde diere dit wat van hulle oorgebly het, opvreet.

4 Koning Manasse, die seun van Hiskia, koning van Juda, het dinge in Jerusalem gedoen waarvan Ek niks gehou het nie. Omdat hy hierdie dinge gedoen het, sal Juda ly. Ek sal van my volk ’n voorbeeld maak. Wat met hulle gebeur, sal al die volke op die aarde skok.”

5 Die Here vra: “Wie sal julle jammer kry, inwoners van Jerusalem? Wie sal oor julle huil? Wie sal nog enigsins die moeite doen om te vra hoe dit met julle gaan?

6 Julle het My in die steek gelaat. Julle steur julle al hoe minder aan My,” sê die Here. “Daarom sal Ek sorg dat daar niks van julle oorbly nie. Ek is moeg daarvan om julle altyd nog ’n kans te gee.

7 Uit elke stad in die land sal Ek julle verstrooi soos ’n mens met kaf op die dorsvloer maak. Ek sal julle baie hartseer maak deur wat vir julle na aan julle hart lê, weg te vat. Ek sal my volk laat ondergaan omdat hulle botweg weier om op te hou met die verkeerde dinge wat hulle doen.

8 Daar sal nou meer weduwees wees as wat daar sand by die see is. So teen die middag se kant sal ’n aanvaller kom en die ma’s van die jongmans oorval. Ek sal maak dat angs en vrees hulle skielik beetpak.

9 ’n Ma wat sewe kinders gehad het, sal flou word en na haar asem snak as haar kinders sterf. Dit sal vir haar voel of die son helder oordag gesak het. Sy is nou sonder enige kinders en wat ’n vernedering is dit nie! Die mense wat so ver alles oorleef het, sal Ek in die hande van die vyand gee,” sê die Here.