Jeremia 15:6-12 DB

6 Julle het My in die steek gelaat. Julle steur julle al hoe minder aan My,” sê die Here. “Daarom sal Ek sorg dat daar niks van julle oorbly nie. Ek is moeg daarvan om julle altyd nog ’n kans te gee.

7 Uit elke stad in die land sal Ek julle verstrooi soos ’n mens met kaf op die dorsvloer maak. Ek sal julle baie hartseer maak deur wat vir julle na aan julle hart lê, weg te vat. Ek sal my volk laat ondergaan omdat hulle botweg weier om op te hou met die verkeerde dinge wat hulle doen.

8 Daar sal nou meer weduwees wees as wat daar sand by die see is. So teen die middag se kant sal ’n aanvaller kom en die ma’s van die jongmans oorval. Ek sal maak dat angs en vrees hulle skielik beetpak.

9 ’n Ma wat sewe kinders gehad het, sal flou word en na haar asem snak as haar kinders sterf. Dit sal vir haar voel of die son helder oordag gesak het. Sy is nou sonder enige kinders en wat ’n vernedering is dit nie! Die mense wat so ver alles oorleef het, sal Ek in die hande van die vyand gee,” sê die Here.

10 Ek het gesê: “Dit gaan sleg met my! Hoekom het Ma my ooit in die wêreld gebring? Ek is altyd aan die stry en baklei met almal in die land. Al het ek niks uitgeleen nie en al het ek niks by iemand anders geleen nie, wens almal my slegte dinge toe.”

11 Die Here het geantwoord: “Dit sal met jou goed gaan, Jeremia. Jou vyande sal nog vir jou kom vra om namens hulle om hulp te smeek as moeilike en swaar tye kom.

12 Ek sal jou so sterk maak soos ’n stuk yster uit die noorde of ’n stuk koper wat nie gebreek kan word nie.”