Jeremia 16:13-19 DB

13 Daarom sal Ek sorg dat julle uit julle land gegooi word. Ek sal verder ook sorg dat julle na ’n vreemde land gevat word waar julle voorouers nog nooit was nie. As julle daar is, kan julle ander gode dien net soveel as wat julle wil. Julle moet geen gunsies van My verwag nie.”

14 Die Here sê: “Die tyd is naby dat mense wat vroeër plegtig belowe het: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel uit Egipte gered het,’ dit nie langer sal doen nie.

15 In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel teruggebring het uit die noorde en al die lande waarheen hulle as gevangenes weggevat was, na hulle eie land toe.’ Hulle kan daarvan seker wees dat Ek hulle sal terugbring na hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het.”

16 Die Here sê: “Ek stuur ’n leër en niemand sal uit hulle hande bly nie. Die soldate sal net soos vissermanne maak. Hulle sal die mense van Juda soos visse vang. Ek maak hulle ook soos jagters wat die mense van Juda in die berge sal jag, op heuwels en in rotsskeure.

17 Ek hou Juda se mense baie fyn dop. Ek weet van elke verkeerde ding wat hulle doen. Hulle kan niks vir My wegsteek nie.

18 Ek sal hulle weer en weer straf vir die slegte en verkeerde goed wat hulle gedoen het. Ek wou hê dat die land altyd skoon moes bly van ander gode. Israel het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het die land besmet met beelde wat nie ’n tikkie lewe in hulle het nie. Hulle het oral in hierdie land wat Ek vir hulle gegee het, van hierdie afskuwelike beelde gebring.”

19 Here, U gee my krag. U beskerm my. Ek kan ook veilig by U wegkruip as gevaar op my pad kom. Mense van ander nasies sal van oral oor die aarde na U kom en sê: “Ons voorouers was dom om nikswerd afgode te dien. Hulle kan tog niks doen nie!