15 Die mense vra my: ‘Wat het geword van die danige boodskap wat jy by die Here gekry het? Laat dit nou gebeur!’
16 Here, ek het nie by U aangehou om hulle te straf nie. Ek het ook nie gewens dat hulle slegte goed moet oorkom nie. Dit is nie ’n boodskap wat ek self uitgedink het nie, dit is u boodskap wat ek vir hulle gegee het.
17 Moenie nou veroorsaak dat ek vir U bang moet wees nie. Ek vertrou heeltemal op U dat U my sal help as ek in die nood is.
18 Here, laat mense wat my vervolg die slegste daarvan afkom. Laat dit asseblief met my goed gaan. Laat hulle die mense wees wat bang is, nie ek nie. Laat slegte goed hulle tref, sommer ’n dubbele dosis daarvan!”
19 Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by al die hekke waar mense in- en uitgaan by Jerusalem. Ja, ook by die hek wat ‘die mense se hek’ genoem word. Dit is die hek wat die konings van Juda gebruik as hulle by Jerusalem wil in- en uitgaan.
20 Sê daar vir die mense wat die hekke gebruik, konings, die mense van Juda en ook die mense wat in Jerusalem bly: ‘Hoor wat die boodskap van die Here vir julle is.
21 Hy sê: Luister, wat Ek te sê het, is lewensbelangrik! Ek het opdrag gegee dat julle die sewende dag van die week as ’n rusdag moet hou. Daarom moet julle ophou om op hierdie dag die goed waarmee julle handel dryf, by die hekke rond te dra.