18 Here, laat mense wat my vervolg die slegste daarvan afkom. Laat dit asseblief met my goed gaan. Laat hulle die mense wees wat bang is, nie ek nie. Laat slegte goed hulle tref, sommer ’n dubbele dosis daarvan!”
19 Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by al die hekke waar mense in- en uitgaan by Jerusalem. Ja, ook by die hek wat ‘die mense se hek’ genoem word. Dit is die hek wat die konings van Juda gebruik as hulle by Jerusalem wil in- en uitgaan.
20 Sê daar vir die mense wat die hekke gebruik, konings, die mense van Juda en ook die mense wat in Jerusalem bly: ‘Hoor wat die boodskap van die Here vir julle is.
21 Hy sê: Luister, wat Ek te sê het, is lewensbelangrik! Ek het opdrag gegee dat julle die sewende dag van die week as ’n rusdag moet hou. Daarom moet julle ophou om op hierdie dag die goed waarmee julle handel dryf, by die hekke rond te dra.
22 Moenie op hierdie rusdag goed uit julle huise dra nie. Julle moet ook nie enige werk doen nie. Maak dit ’n dag wat julle ter wille van My uitsonder soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.’
23 Maar hulle voorouers wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou niks doen wat Ek vir hulle voorgeskryf het nie.”
24 Maar die Here sê: “Julle weet wat Ek wil hê. Julle moet My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die rusdag nie. Julle moet ook nie op dié dag werk nie, maar dit spesiaal eenkant hou ter wille van My.