Jeremia 18:14-20 DB

14 Smelt die sneeu ooit heeltemal in die hoogste dele van die Libanonberg? Sal die koue bergstrome van die Hermonberg ooit opdroog?

15 Anders as met die sneeu en die water, is my volk onbetroubaar. Hulle het My in die steek gelaat! Hulle brand wierook om die nikswerd afgode te plesier. Hierdie afgode het hulle verlei. My mense weet wat reg is, maar het koers ingeslaan in die verkeerde rigting. Hulle kies om verkeerd te doen.

16 Die gevolg hiervan is dat hulle land verwoes is. ’n Mens kan maar net van verbasing fluit. Almal wat verbyloop, sal skrik as hulle die toestand sien waarin die land is. Hulle kan maar net van verbasing die kop skud.

17 As hulle teen hulle vyande veg, sal Ek hulle in alle rigtings laat spat. Dit sal lyk soos stof wat deur die oostewind rondgewaai word. Al is hulle in groot moeilikheid, Ek sal My nie daaraan steur nie. Inteendeel, Ek sal die rug vir hulle draai.”

18 Toe het die mense gesê: “Kom ons maak ’n plan om Jeremia se mond toe te kry. Ons het mos die priesters wat ons kan leer wat die Here van ons wil hê. Verder het ons verstandige mense wat vir ons raad kan gee en mense wat die Here se boodskappe vir ons kan gee. Kom ons versprei slegte stories oor Jeremia en steur ons nie aan wat hy te sê het nie.”

19 Jeremia bid toe: “Here, help my! Luister wat die mense teen my beplan.

20 Is dit regverdig dat goed met sleg terugbetaal word? Hulle het ’n gat vir my gegrawe om in te val. Maar onthou U hoe ek vir hulle gebid het? Ek het U gesmeek om hulle nie in u woede te straf nie. Dit is nou stank vir dank!