1 Die Here het nog iets vir my gegee wat ek vir hulle moes sê. Hy het gesê:
2 “Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal dit kan hoor. Die Here sê: Ek onthou nog lank gelede toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Toe wou julle My so graag tevrede stel. Julle was selfs bereid om My deur die dorre woestyn te volg waar daar geen landerye vir kos was nie.
3 In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Ek het oor hulle gevoel soos ’n mens voel oor die eerste deel van die oes wat van die landerye af kom. Niemand mag dit waag om aan hulle te vat nie. Ek sou enigiemand wat hulle wou seermaak, se lewe ellendig maak.”
4 Luister na wat die Here sê, mense van Israel! Al die families van Israel, julle ook!
5 Die Here sê: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers nie meer in My belanggestel het nie? Hulle het sommer agter nikswerd afgode begin aanloop. Deur dit te doen het hulle self nikswerd mense geword.
6 Julle voorouers het nie eens gedink om te vra: ‘Waar is die Here wat ons uit Egipte gebring het, wat ons deur die woestyn gelei het?’ nie. Die land was woes en baie moeilik om deur te trek. Daar was ook nie water nie. Niemand het eens kans gesien om hier te probeer lewe of deur te ry of te loop nie, want dit was ’n verskriklik gevaarlike stuk land. En tog het Ek, die Here, hulle veilig hierdeur gevat!”