16 Die Egiptenaars uit Memfis en Tagpanges het Israel se mag gebreek en hulle verneder.
17 Julle het die moeilikheid oor julleself gebring. Ek wou vir julle rigting en leiding gee, maar julle het julle eie koers ingeslaan en julle nie aan My gesteur nie.
18 Wat gaan dit julle help om by Egipte of selfs by Assirië hulp te gaan soek?
19 Julle sal die gevolge dra van die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Julle gaan swaarkry omdat julle julle nie aan My gesteur het nie. Julle sal nog agterkom hoe ’n slegte ding dit is wat julle gedoen het om My in die steek te laat. Wat julle doen, wys dat julle geen respek meer vir My het nie,” sê die Here wat sterker en magtiger as alles en almal is.
20 “Dit is nou al lank terug dat Ek gesorg het dat julle nie meer ander mense se slawe is nie. Nogtans sê julle dat julle nie aan My gehoorsaam sal wees nie. Julle is net soos mense wat rondslaap. Op elke heuweltjie en onder al wat ’n koelteboom is, buig julle voor ander gode neer.
21 Ek verstaan nie hoe dit kon gebeur nie. Toe Ek julle geplant het, was julle soos uitsoekdruiweplante. Die beste soort wat ’n mens kan kry! Hoe is dit dan moontlik dat julle so kon verander dat julle nou soos wilde druiweplante is?
22 Al was julle julle ook met baie seep en met die sterkste wasmiddels, dit sal nie help nie. Al die verkeerde en slegte dinge wat julle gedoen het, is soos vuil vlekke op klere. Niks kan dit uitwas nie,” sê die Here. Niemand het soveel mag soos Hy nie!