27 Hulle sê vir ’n beeld wat uit hout gesny is: ‘Jy is my pa.’ En vir ’n beeld wat uit klip gekap is, sê hulle: ‘Ons is jou kinders.’ Hulle steur hulle glad nie aan My nie” sê die Here, “maar net sodra hulle in die moeilikheid is, roep hulle My om hulle te help.
28 Hoekom roep julle nie hierdie gode wat julle gemaak het om julle te kom help nie? As hulle dan so goed is, laat hulle julle uit die moeilikheid help as hulle kan! Julle het omtrent net soveel gode as wat daar stede en dorpe is.
29 Waarom maak julle of dit Ek is wat verkeerd gedoen het? Julle is die mense wat teen My in opstand gekom het,” sê die Here.
30 “Dit het nie eens gehelp dat Ek julle kinders gestraf het nie. Dit lyk nie juis of hulle iets uit die straf geleer het nie. Ek het my profete na julle toe gestuur, maar julle het hulle doodgemaak net soos leeus ’n prooi verskeur.
31 Israel, luister na wat die Here te sê het! Hy vra: Is Ek vir Israel so sleg dat dit vir hulle voel soos om in ’n woestyn te wees of in ’n pikdonker land? Hoekom sê my volk dan: ‘Uiteindelik is ons vry, ons wil nooit weer iets met Hom te doen hê nie’?
32 Sê My, vergeet ’n meisie haar juwele? Sal ’n vrou vergeet hoe haar trourok gelyk het? Hoe is dit dan moontlik dat my mense My keer op keer vergeet?
33 Julle is soos mense wat al die fyner kunsies ken om ander mans of vroue in die hande te kry. Julle is so goed met die verkeerde manier van doen dat hierdie mense by julle kan kom leer.