3 In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Ek het oor hulle gevoel soos ’n mens voel oor die eerste deel van die oes wat van die landerye af kom. Niemand mag dit waag om aan hulle te vat nie. Ek sou enigiemand wat hulle wou seermaak, se lewe ellendig maak.”
4 Luister na wat die Here sê, mense van Israel! Al die families van Israel, julle ook!
5 Die Here sê: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers nie meer in My belanggestel het nie? Hulle het sommer agter nikswerd afgode begin aanloop. Deur dit te doen het hulle self nikswerd mense geword.
6 Julle voorouers het nie eens gedink om te vra: ‘Waar is die Here wat ons uit Egipte gebring het, wat ons deur die woestyn gelei het?’ nie. Die land was woes en baie moeilik om deur te trek. Daar was ook nie water nie. Niemand het eens kans gesien om hier te probeer lewe of deur te ry of te loop nie, want dit was ’n verskriklik gevaarlike stuk land. En tog het Ek, die Here, hulle veilig hierdeur gevat!”
7 Die Here sê verder: “Ek het julle na ’n land gebring waar alles baie goed groei. Ek wou hê dat julle die vrugte en die goeie dinge wat die land gee, geniet. Maar wat het julle gedoen? Julle het in my land ingekom en dit met julle afgode bemors. Julle het die land wat julle van My sou erf iets gemaak om te haat.
8 Die priesters het hulle geensins aan die Here gesteur nie. Die regsgeleerdes het nie eens twee keer aan Hom gedink nie. Die leiers van die land het teen die Here in opstand gekom. Die profete het nou gesê die god Baäl het vir hulle die boodskappe gegee, nie die Here nie. Op dié manier het hulle hulle tyd eintlik op niks gemors.
9 Om dié rede,” sê die Here, “maak Ek ’n saak teen julle. Maar dit hou nie hier op nie, Ek kla ook julle kinders en hulle kinders aan oor die verkeerde dinge wat gedoen is.