9 Om dié rede,” sê die Here, “maak Ek ’n saak teen julle. Maar dit hou nie hier op nie, Ek kla ook julle kinders en hulle kinders aan oor die verkeerde dinge wat gedoen is.
10 Gaan in ’n westelike rigting tot by Siprus en oos tot by Kedar. Kyk ’n bietjie mooi wat daar aangaan. Het iets so vreemds al ooit gebeur
11 dat ’n volk hulle gode omgeruil het vir ander gode selfs al was hulle nie eintlik regtig gode nie? Ek is tog nie ’n gewone god nie, en tog het my eie mense My vir gode verruil wat niks werd is nie!
12 Die hemele kyk geskok neer op wat hier aan die gang is en bewe van verbasing,” sê die Here.
13 “My volk het twee slegte dinge gedoen: Ek is soos ’n fontein wat lewe gee vir mense wat die water drink. Wat doen hulle? Hulle het van My af weggegaan. Hulle het ook vir hulle bakke gaan uitkap om water in op te vang. Die probleem is dat hierdie bakke gekraak is en nie water kan hou nie.”
14 “Het Israel ’n slaaf geword? Hulle is mos nie as slawe gebore nie. Hoekom word hulle dan nou soos ’n prooi wat gejag word?
15 Waarom dreig die vyand Israel dan nou soos leeus wat brul om die prooi te storm? Hulle het die land verwoes en die stede is nou net ’n hoop klippe wat daar lê. Daar is nie meer mense wat daar bly nie.