11 Eers was koning Josia koning. Hy is toe opgevolg deur sy seun Joahas. Joahas is gevang en uit sy land weggevat na ’n ander land. Die Here sê van hom: “Hy sal nooit weer terugkom nie.
12 Hy sal doodgaan in die land waar hy ’n gevangene is en sal sy geboorteland nie weer sien nie.”
13 Die Here sê: “Die toekoms lyk sleg vir koning Jojakim. Hy bou sy paleis met mense wat hy dwing om vir hom te werk. Dan bou hy ook nog ’n boonste vertrek op hierdie onmenslike manier. Hy betaal ook nie die mense wat vir hom werk nie.
14 Hy sê: ‘Ek sal vir my ’n spoggerige paleis met groot kamers en baie vensters bou. Die vertrekke beslaan ek met sederhout en verf dit rooi.’
15 Die vraag is: Maak dit van jou ’n beter koning as jou paleis mooier is en meer sederhout as ander het? Hoekom was jou pa, Josia, so ’n suksesvolle koning? Dit was omdat hy soos ’n normale mens gelewe het en altyd eerlik en regverdig was.
16 Hy het altyd gesorg dat arm en behoeftige mense regverdig behandel word. Daarom het dit met hom goed gegaan. Deur dinge so te doen het hy gewys hy verstaan wat vir My belangrik is.
17 Maar nie jy nie, Jojakim! Jy wou net altyd kyk wat jy in die hande kan kry om ryk te word. Jy gee nie eens om of dit op ’n oneerlike manier gebeur nie. Jy het onskuldige mense vermoor. Verder het jy mense uitgebuit wat arm is. Ander het jy afgepers.”