15 Die vraag is: Maak dit van jou ’n beter koning as jou paleis mooier is en meer sederhout as ander het? Hoekom was jou pa, Josia, so ’n suksesvolle koning? Dit was omdat hy soos ’n normale mens gelewe het en altyd eerlik en regverdig was.
16 Hy het altyd gesorg dat arm en behoeftige mense regverdig behandel word. Daarom het dit met hom goed gegaan. Deur dinge so te doen het hy gewys hy verstaan wat vir My belangrik is.
17 Maar nie jy nie, Jojakim! Jy wou net altyd kyk wat jy in die hande kan kry om ryk te word. Jy gee nie eens om of dit op ’n oneerlike manier gebeur nie. Jy het onskuldige mense vermoor. Verder het jy mense uitgebuit wat arm is. Ander het jy afgepers.”
18 Daarom sê die Here oor koning Josia se seun Jojakim: “Sy familie sal nie geskok uitroep en oor hom huil nie. Die mense van Juda sal ook nie oor hulle koning treur nie.
19 Hy sal soos ’n donkie begrawe word. Sy lyk sal by Jerusalem uitgesleep word en buite die stad gelos word.”
20 “Huil, want almal op wie jy gereken het om julle te help, is weg. Gaan roep maar na hulle in Libanon. Gaan na Basan en skree hard. Gaan roep na hulle van die berge van Moab af. Dit sal niks help nie, want hulle is almal verpletter.
21 Toe dit met jou goed gegaan het, het Ek jou probeer waarsku, maar jy het geweier om te luister. Van jou kleintyd af al was dit jou houding om nie na My te luister nie.