20 “Huil, want almal op wie jy gereken het om julle te help, is weg. Gaan roep maar na hulle in Libanon. Gaan na Basan en skree hard. Gaan roep na hulle van die berge van Moab af. Dit sal niks help nie, want hulle is almal verpletter.
21 Toe dit met jou goed gegaan het, het Ek jou probeer waarsku, maar jy het geweier om te luister. Van jou kleintyd af al was dit jou houding om nie na My te luister nie.
22 Nou sal al die mense wat jou altyd gehelp het, verdwyn asof die wind hulle weggewaai het. Jou vriende op wie jy gereken het, sal gevang en weggevat word. Jy sal in die skande kom omdat jy so baie verkeerde dinge gedoen het. Ja, jy sal verneder word.
23 Dit mag vir jou baie lekker wees om in ’n paleis te bly wat met sederhout mooigemaak is. Maar dit sal nie lank so aanhou nie. Binnekort sal jy van angs en vrees gil. Dit sal net so voel soos ’n vrou se geboortepyne.”
24 Die Here het vir Jojagin, die seun van koning Jojakim van Juda, gesê: “So seker as wat Ek die lewende God is, Ek sal van jou ontslae raak. Al is jy soos ’n seëlring aan my vinger, Ek sal jou afpluk.
25 Ek weet jy is bang vir koning Nebukadnesar van Babel en sy mense. Hulle wil jou graag doodmaak. Ek sal jou in hulle hande laat beland.
26 Ek sal jou en jou ma uit Juda verban na ’n land waar nie een van julle twee gebore is nie. Daar sal julle doodgaan.