22 As hulle werklik in my binnekring was en geluister het na wat Ek sê, sou hulle my boodskap gekry het om oor te dra. Dan sou my volk opgehou het om al die verkeerde dinge te doen waarmee hulle besig is.
23 Dink julle miskien Ek is net in een plek te kry? Kan Ek nie ook raaksien wat ver van hier af gebeur nie?
24 Dink enigiemand hulle kan vir My wegkruip en Ek sal hulle nie sien nie? Is Ek nie oral in die hemel en op die aarde nie?” vra die Here.
25 “Ek het gehoor wat hierdie profete sê: ‘Kom ek vertel vir julle die droom wat die Here vir my in die nag gegee het.’ Dan vertel hulle leuens en is hulle so vermetel om te sê Ek het vir hulle die boodskap gegee.
26 Hoe lank sal daar nog van hierdie profete wees wat mense bedrieg? Die goed wat hulle kwytraak, het hulle sommer self uitgedink.
27 Hierdie profete vertel vir mekaar hierdie vals drome. Hulle probeer so om my mense van My te laat vergeet. Hulle voorouers het destyds van My vergeet toe hulle Baäl begin dien het.
28 As hulle dan wil, laat hierdie vals profete hulle drome vir ander vertel. Maar as my profete praat, moet hulle die boodskap wat Ek vir hulle gegee het, sonder enige stertjies oordra. Wat waar is en wat vals is, verskil net soveel as wat kaf en koring van mekaar verskil,” sê die Here.