9 My hart is stukkend oor die vals profete. Die Here se woorde is heeltemal anders as gewone mense s’n. Wat Hy oor hierdie boodskappers te sê het, laat my bewe so groot as wat ek is. Ek slinger rond soos ’n mens wat dronk is van te veel wyn.
10 Die land is vol mense wat dislojaal teenoor die Here is. Dit gaan nie goed in die land nie. Dit gaan eintlik treurig, want die weiding in die veld het verdroog. Die profete doen slegte dinge en misbruik hulle mag.
11 Die Here sê: “Die priesters is net soos hierdie boodskappers. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek het selfs gesien dat hulle verkeerde goed in my tempel doen.
12 Daarom sal dit met hulle gaan soos met iemand wat in die donker op gladde paaie moet loop. Hulle sal gedwing word om op donker roetes te stap. Omdat dit donker is, sal hulle val. Die tyd het aangebreek dat hulle gestraf gaan word. Ek sal sorg dat slegte dinge met hulle gebeur,” sê die Here.
13 “Ek het gesien hoe die profete van Samaria ’n totaal onaanvaarbare ding doen. Hulle sê die boodskappe wat hulle bring, kom van Baäl af. Deur dit te doen lei hulle die mense van Israel op ’n dwaalspoor.
14 Maar nou sien Ek dat die profete van Jerusalem nog erger dinge doen. Hulle hoereer, lieg en bedrieg en boonop moedig hulle mense wat verkeerd doen aan om daarmee vol te hou. ’n Mens sou eerder verwag het dat hulle mense sou aanmoedig om op te hou om verkeerd te doen. Hulle is niks beter as die mense van Sodom en Gomorra nie!”
15 Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê die volgende oor hierdie profete: “Ek sal vir hulle bitter goed gee om te eet en gif om te drink. Dit is die profete van Jerusalem se skuld dat al die mense van die land leef asof Ek nie bestaan nie.