2 Die Here het vir Jeremia gesê: “Maak vir jou ’n juk met gedraaide leerrieme aan, net soos dié wat ’n mens gebruik om osse in te span wat ’n ploeg of ’n wa trek. Sit hierdie dwarshout met die gedraaide rieme aan op jou nek.
3 Stuur dan ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon deur hulle verteenwoordigers.” Hierdie verteenwoordigers het na koning Sedekia in Jerusalem gekom. Sedekia was die koning van Juda.
4 Jeremia moes hulle opdrag gee om hierdie boodskap aan hulle konings te gaan gee: “Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê:
5 Omdat Ek baie mag en krag het, het Ek die aarde en die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak. Ek kan daarmee maak net wat Ek wil.
6 Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek het al julle lande vir hom gegee. Hy sal selfs die baas van die wilde diere wees.
7 Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien. Dit sal so aanhou totdat sterk nasies en magtige konings Babel sal oorwin en oor die land sal regeer.
8 Julle almal moet die koning van Babel dien. Sit julle nek onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, sal Ek hulle straf,” sê die Here. “Ek sal veroorsaak dat hulle oorlog moet maak. Verder sal Ek hulle honger laat ly en ’n epidemie onder hulle laat uitbreek. So sal dit aanhou totdat Nebukadnesar hulle op die ou end oorwin het.