4 Jeremia moes hulle opdrag gee om hierdie boodskap aan hulle konings te gaan gee: “Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê:
5 Omdat Ek baie mag en krag het, het Ek die aarde en die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak. Ek kan daarmee maak net wat Ek wil.
6 Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek het al julle lande vir hom gegee. Hy sal selfs die baas van die wilde diere wees.
7 Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien. Dit sal so aanhou totdat sterk nasies en magtige konings Babel sal oorwin en oor die land sal regeer.
8 Julle almal moet die koning van Babel dien. Sit julle nek onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, sal Ek hulle straf,” sê die Here. “Ek sal veroorsaak dat hulle oorlog moet maak. Verder sal Ek hulle honger laat ly en ’n epidemie onder hulle laat uitbreek. So sal dit aanhou totdat Nebukadnesar hulle op die ou end oorwin het.
9 Moenie na julle eie profete luister nie. Ook nie na die waarsêers of mense wat sê hulle kan drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos vir julle dat julle julle nie aan die koning van Babel sal hoef oor te gee nie.
10 Hulle vertel vir julle ’n spul leuens. Dit maak net dat julle uit julle land gedryf sal word. Ek sal julle ver weg stuur en daar sal julle doodgaan.