5 Jeremia het voor al die priesters en die mense wat saamgedrom het, geantwoord op wat Gananja gesê het. Hulle het nog steeds daar voor die tempel gestaan en praat.
6 Hy het gesê: “Goed so! Ek hoop dit gebeur net soos jy gesê het. Ek hoop die Here doen alles wat jy sê. Ek hoop ook dat Hy al die kosbare goed wat uit die tempel weg is, uit Babel sal terugbring hier na Jerusalem toe. Ja, ook al die mense wat gevang en ontvoer is.
7 Maar luister nou ernstig na wat ek vir jou voor al hierdie mense wil sê.
8 Nog lank voor my en jou was daar al profete van die Here wat moeilike dinge moes sê teen lande wat baie sterk was. Hulle moes vir die mense gesê het van oorloë wat sou kom. Maar hulle moes ook vir hulle sê dat van hulle van die honger sou doodgaan of dat siektes hulle sou tref.
9 As dit sou gebeur dat ’n profeet mense gerusstel dat hulle vrede en rus gaan hê, moet ’n mens maar eers wag en sien of dit waar word. Net as dit wat die profeet gesê het gaan gebeur, regtig gebeur, kan ’n mens sê die Here het die persoon gestuur.”
10 Gananja het na Jeremia toe gegaan en die juk van sy nek afgehaal en dit gebreek.
11 Daarna het hy weer vir die mense wat rondom hulle gestaan het, gesê: “Die Here het belowe dat Hy binne twee jaar die mag van Nebukadnesar, die koning van Babel, soos hierdie juk sal breek. Nebukadnesar gebruik sy mag om nasies te onderdruk, maar die Here sal dit stopsit.” Toe het Jeremia van die tempel af weggeloop.