9 As dit sou gebeur dat ’n profeet mense gerusstel dat hulle vrede en rus gaan hê, moet ’n mens maar eers wag en sien of dit waar word. Net as dit wat die profeet gesê het gaan gebeur, regtig gebeur, kan ’n mens sê die Here het die persoon gestuur.”
10 Gananja het na Jeremia toe gegaan en die juk van sy nek afgehaal en dit gebreek.
11 Daarna het hy weer vir die mense wat rondom hulle gestaan het, gesê: “Die Here het belowe dat Hy binne twee jaar die mag van Nebukadnesar, die koning van Babel, soos hierdie juk sal breek. Nebukadnesar gebruik sy mag om nasies te onderdruk, maar die Here sal dit stopsit.” Toe het Jeremia van die tempel af weggeloop.
12 Kort daarna het die Here weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê:
13 “Gaan sê vir Gananja, Ek, die Here, sê: Jy het hierdie juk wat van hout gemaak is, gebreek. Maar jy sal in die plek van die houtjuk een van yster kry.
14 Ek is die Here wat sterker as alles en almal is. Ek is die God van Israel. Ek sal ’n ysterjuk op die nekke van al hierdie nasies sit. Ek sal hulle dwing om voor Nebukadnesar, wat die koning van Babel is, te buig en vir hom te werk. Hy sal mag oor hulle hê. Hulle sal geen regte hê nie. Alles sal onder sy beheer wees. Hy sal selfs oor die wilde diere beheer hê.”
15 Jeremia en Gananja het al twee gesê dat hulle profete van die Here is. Jeremia het toe vir Gananja gesê: “Luister, Gananja, die Here het jou nie as sy boodskapper gestuur nie! En tog het jy dit reggekry dat die mense jou leuens glo.