Jeremia 29:21-27 DB

21 Hy is die God van Israel. Hy sê dat Agab, die seun van Kolaja, en Sedekia, die seun van Maäseja, sê dat hulle boodskappe bring wat van die Here af kom. Dit is natuurlik alles leuens. Daarom sê die Here: “Ek sal hulle aan Nebukadnesar oorgee. Hy sal hulle laat doodmaak waar almal dit kan sien.

22 Wat met hierdie twee mense sal gebeur, sal soos ’n spreekwoord word. Elke keer as een van die mense van Juda wat in Babel is, iemand wil verwens, sal hulle sê: ‘Mag die Here met jou laat gebeur wat die koning van Babel met Agab en Sedekia gedoen het. Hy het hulle lewendig verbrand!’

23 Wat hierdie twee sogenaamde profete onder die mense van Israel gedoen het, is vreeslik. Hulle het owerspel gepleeg met ander mans se vroue. En dan het hulle ook nog die vermetelheid om leuens te vertel en voor te gee dat wat hulle sê, van My af kom. Ek het hulle nie gestuur, maar Ek weet wat hulle alles aanvang. Ek sal self teen hulle getuig,” sê die Here.

24 Die Here het ook ’n boodskap vir Semaja gehad. Hy was van Negelam afkomstig.

25 Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Jy het ’n brief geskryf wat jy self geteken het. Hierdie brief het jy aan die mense gestuur wat in Jerusalem bly. Maar jy het dit ook aan die priester Sefanja, die seun van Maäseja, en ander priesters gestuur. Daarin het jy vir Sefanja geskryf:

26 ‘Die Here het jou in die plek van die priester Jojada aangestel. Jy is nou in beheer van die tempel. Dit sal jou werk wees om toe te sien dat geen mal mens boodskappe namens die Here bring nie. As daar so iemand is, moet jy die persoon in die tronk sit met ’n boei om die nek.

27 Verduidelik nou ’n bietjie, hoekom het jy niks aan Jeremia van Anatot gedoen nie? Hy het sulke boodskappe namens die Here vir jou gegee.