1 Die Here vra: “As ’n man van sy vrou skei en sy trou met ’n ander man, mag hy haar terugvat? As hy dit sou doen, sou dit nie ’n slegte invloed op die land hê nie? Israel, jy het agter baie gode aangeloop net soos mense wat losbandig is en oral rondslaap. En nou wil jy weer na My toe terugkom.
2 Kyk ’n bietjie om jou na die heuwels. Is daar enige plek in die hele land waar jy nie vreemde gode vereer het nie? Jy sit langs die pad soos iemand van losse sedes wat iemand soek om by te slaap. Jy is soos ’n rower in die woestyn wat wag om iemand te beroof. Jy het die land ’n slegte naam gegee met jou dislojale optrede. Jou doen en late is boos!
3 Dit is hoekom die reën nie in die reëntyd gekom het nie. Jou houding is net so uitdagend soos ’n sekswerker s’n. Jy skaam jou nie eens oor wat jy gedoen het nie.
4 En nou skielik sê jy vir My: ‘U is my Vader, U is my vriend vandat ek sommer nog baie klein was.
5 U sal sekerlik nie vir altyd kwaad wees en kwaad bly nie?’ Dit is die soort praatjies wat julle maak, maar julle hou net aan om alles te doen wat verkeerd is.”