1 Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee.
2 Hy het gesê: “Die Here is die God van Israel en Hy sê: Skryf alles wat Ek vir jou gesê het, in ’n boek.
3 Die tyd kom dat Ek dinge vir my mense weer sal maak soos dit vroeër was. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het. Hulle sal weer aan die land dink as hulle eie en hier bly.”
4 Dit is wat die Here vir Israel en Juda te sê het.
5 Hy sê: “Ek het die angstige uitroepe van my mense gehoor. Daar is vrees en geen kalmte nie.
6 Ek wil ’n vraag vra: Kan mans babas hê? Nou waarom staan hulle dan bleek in die gesig met hulle hande op hulle heupe soos ’n vrou wat kraampyne voel?
7 Dit is ’n verskriklike tyd wat die mense beleef. Nog nooit in die geskiedenis het mense sulke dinge deurgemaak nie. Dit is ’n tyd van baie probleme vir die mense van Israel. Maar op die ou einde sal hulle uit die moeilikheid gered word.