1 Die Here het weer met Jeremia gepraat in die tiende jaar wat Sedekia koning van Juda was. Nebukadnesar was toe al agtien jaar koning van Babel.
2 In dié stadium was Jerusalem omsingel deur die Babiloniese koning se leër. Die mense van Jerusalem was binne-in die stad vasgevang. Jeremia self was ’n gevangene in die paleis van die koning van Juda. Hy moes net in die binnehofgedeelte bly waar die wagte gebly het.
3 Koning Sedekia het hom hier laat sit omdat hy bly sê het: “Die Here sê: Ek sal hierdie stad oorgee in die mag van die koning van Babel. Hy sal die stad inneem.
4 Sedekia sal nie ontsnap nie. Die Babiloniërs sal hom vang en hom na die koning van Babel toe vat. Hy sal direk met die koning van Babel te doen kry. Hulle sal persoonlik met mekaar praat.