1 Die Here het weer met Jeremia gepraat in die tiende jaar wat Sedekia koning van Juda was. Nebukadnesar was toe al agtien jaar koning van Babel.
2 In dié stadium was Jerusalem omsingel deur die Babiloniese koning se leër. Die mense van Jerusalem was binne-in die stad vasgevang. Jeremia self was ’n gevangene in die paleis van die koning van Juda. Hy moes net in die binnehofgedeelte bly waar die wagte gebly het.
3 Koning Sedekia het hom hier laat sit omdat hy bly sê het: “Die Here sê: Ek sal hierdie stad oorgee in die mag van die koning van Babel. Hy sal die stad inneem.
4 Sedekia sal nie ontsnap nie. Die Babiloniërs sal hom vang en hom na die koning van Babel toe vat. Hy sal direk met die koning van Babel te doen kry. Hulle sal persoonlik met mekaar praat.
5 Nebukadnesar sal koning Sedekia Babel toe vat en daar sal hy bly totdat Ek besluit om aan hom aandag te gee. Dit sal julle nie help om teen die Babiloniërs te baklei nie, want julle kan hulle nie wen nie.”
6 Die Here het in daardie tyd vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
7 “Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond daar by Anatot. Jy het die eerste reg om dit te koop.’”