16 Toe ek die koopkontrak vir Baruk gegee het, het ek gebid en gesê:
17 “Ag Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is te moeilik vir U om te doen nie!
18 Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar dit is ook so dat U die kinders straf vir die verkeerde goed wat hulle ouers gedoen het. Here, u mag is baie groot. Mense praat van U as die Here wat sterker as alles en almal is.
19 U is slim. U weet alles. U kan ook goed doen wat vir die mense te wonderlik is om te verstaan. Daar is niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het.
20 Destyds het U in Egipte buitengewone dinge gedoen. U het tekens en wonders gedoen. U doen dit nog steeds vandag in Israel en onder alle mense. Selfs vandag is U steeds daarvoor bekend.
21 “Toe U Israel uit Egipte gebring het, het U dinge gedoen wat groot en wonderlik is. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het die vyand verskriklik bang gemaak.
22 U het hierdie land aan die mense van Israel gegee. Reeds baie jare terug het U aan hulle voorouers belowe dat U vir hulle ’n land sou gee. Dit sou ’n vrugbare land wees waar melk en heuning volop sou wees.