21 “Toe U Israel uit Egipte gebring het, het U dinge gedoen wat groot en wonderlik is. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het die vyand verskriklik bang gemaak.
22 U het hierdie land aan die mense van Israel gegee. Reeds baie jare terug het U aan hulle voorouers belowe dat U vir hulle ’n land sou gee. Dit sou ’n vrugbare land wees waar melk en heuning volop sou wees.
23 Ons voorouers het toe hierdie land ingeval en dit hulle blyplek gemaak. Maar hulle wou nie na U luister nie. Hulle wou ook nie die riglyne wat U vir hulle gegee het oor hoe hulle moet lewe, volg nie. Hulle het omtrent niks van alles wat U van hulle verwag het, gedoen nie. Dit is hoekom hierdie slegte goed hulle nou tref.
24 Die Babiloniërs veg nou teen die mense in Jerusalem. Hulle het reeds walle gebou om oor die mure van die stad te kom en die stad in te neem. Al die gevegte, die tekort aan kos en die siektes het reeds die inwoners van die stad baie swak gemaak. Alles gebeur nou net soos U gesê het dit sou.
25 En tog, Here, het U vir my gesê om ’n stuk grond te koop. Ek moes selfs voor getuies geld daarvoor betaal het. En dit gebeur alles terwyl die Babiloniërs op die punt staan om die stad in te neem.”
26 Die Here het vir Jeremia gesê:
27 “Ek is die Here, die God van al die mense van die wêreld. Is daar iets wat te moeilik is vir My om te doen?